|
WELKOM op my tuisblad. My naam is Daniel Jacobs. Ek het in 1984 ’n B.A. Hons. in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en in 1990 Die Nasionale Diploma in Argiefwetenskap aan die RSA Technikon. Ek het 3 jaar lank as argivaris in die NGK Argief in Kaapstad en ’n verdere 3 jaar in die Staatsargief in Kaapstad gewerk, waar ek o.a. verantwoordelik was vir die gee van navorsingsleiding aan navorsers. Ek het sedert 1987 reeds vir honderde mense genealogiese en kultuurhistoriese navorsing gedoen. Ek het ook in September 2003 ’n omvattende boek oor die geskiedenis van die Vosloo-familie vir mnr. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers, voltooi. Vir inligting m.b.t. die bestel van die boek en voorbeelde van ‘n aantal bladsye uit die boek gaan na Vosloo-boek. Waarom doen ons Genealogiese Navorsing? Die aspek van Genealogiese Navorsing (of die opstel van 'n stamboom soos wat dit in die volksmond bekend is) wat my die meeste interesseer is die instrument wat dit bied om geskiedenis vir veral kinders en jongmense lewendig te maak. Nie dat ons almal ewe veel in Geskiedenis hoef belang te stel nie, maar ek glo dat voordat 'n mens jouself as beskaaf kan beskou jy darem 'n minimum belangstelling in geskiedenis moet hê!! 'n Dame met die van Wepener het jare gelede vir my vertel dat haar laerskooldogter geen belangstelling in geskiedenis gehad het nie. Op 'n dag vertel sy vir haar Pa dat sy van die bekende Louw Wepener (wat in 'n geveg met Basoeto's gesneuwel het) in die skool geleer het. Haar Pa vertel toe aan haar dat Louw Wepener een van haar voorsate was. Sedert daardie dag het sy nie net in haar voorsate se geskiedenis belanggestel nie, maar het sy ook 'n belangstelling ontwikkel in Geskiedenis as vak. Ek het per geleentheid vir 'n groep kinders wat lede was van die Voortrekker Jeugbeweging gevra wat hulle belangstelling in Geskiedenis is as hulle dit op 'n skaal van van 0 – 10 sou moes plaas. Een van die seuns het gesê dat sy belangstelling op twee lê. Ek het toe vir hulle gevra hoe groot hulle belangstelling sou wees as ek aan hulle sou kon bewys dat van hulle voorouers aan die Groot Trek deelgeneem het. Hy het toe gesê dat sy belangstelling dan na vier uit tien sou opskuif. Ek vertel toe aan hulle dat hulle vriend, my jongste seun, die volgende verbintenisse deur sy voorouers met die Groot Trek het: My voorname, Daniel Malan, het sy oorsprong by Daniel Johannes Malan wat in ca 1775 gebore is en 'n neef van Piet Retief was; nog 'n neef van dieselfde Daniel Johannes Malan is saam met Retief vermoor en nog twee neefs het by Italeni gesneuwel. Dan was Pieter Daniel Jacobs, Voortrekkerleier uit Beaufort-Wes, 'n kleinneef van my voorouer Willem Daniel Jacobs (geb. ca 1804). Pieter Daniel Jacobs was een van die Kommandante wat onder Andries Pretorius aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem het. Ons stam verder direk af van Michiel Adriaan Oberholster (skoonpa van Willem Daniel Jacobs) wat na die moord op Retief saam met nog 12 ander mans deur die Engelse Natal-toe gestuur is. MA Oberholster was die leier van 'n klomp trekboere wat hulle al voor die Groot Trek in die Suid-Vrystaat bevind het. Na ‘n uur se gesels oor hierdie stories en ek ook vir hulle breedweg vertel het hoe om genealogiese navorsing te doen, het dieselfde seun gesê dat sy belangstelling nou op ses uit tien staan. Met behulp van die Genealogie kan ‘n mens dus bewys dat Geskiedenis nie dood is nie - ons voorouers en hulle broers, ooms, neefs en niggies het deelgeneem aan belangrike en minder belangrike historiese gebeure of geleef in die tyd toe dit plaasgevind het. |