online pharmacy
online pharmacy
Ouma Hamman en die Barbertonse Konsentrasiekamp

Na Maria Kloppers, wat na die einde van die Tweede Anglo-Boereoorlog die Maria Kloppers kinderhawe gestig het word in die boek Brandhout uit die Vuur as volg verwys: "Elke eeu in die geskiedenis lewer sy geloofshelde wat 'n blywende indruk maak op hulle tydgenote en 'n inspirasie bly vir geslagte daarna."

Nog so 'n geloofsheld is Anna Elizabeth Retief wat op 4 Julie 1874 te Graaff-Reinet gebore. Na haar dood het haar dogter Esperance Kelber 'n boekie oor haar lewe geskryf. Die titel is Gebedsheldin – 'n Lewenskets van Ouma Hamman. (bl. 20) Ouma Hamman was die stigter van die Moedersgebedsbond. Die bond het sy oorsprong gehad na aanleiding van 'n vraag wat sy aan Dr. Andrew Murray gevra het: "Watter raad het u vir my om my vyf klein kindertjies, waarvan die oudste maar nege jaar oud is so vroeg moontlik vir die Here te wen?" Sy antwoord aan haar was: "Ek sien dat u 'n bekommerde moeder is. Soek ander bekommerde moeders en bid saam." Op 'n stadium het sy 400 moeders op haar gebedslys gehad. Sy en haar dogter Zephne het met soveel as moontlik van die moeders kontak gehou deur briefwisseling en dan het sy ook elke maand 'n algemene boodskappie geplaas in die Oorvloedige Lewe.

Sy vertel: "Ek bid vir elke gebedsmoeder by name, gereeld met haar versoeke. Dit beteken natuurlik lang lyste. Ek begin in Noord-Rhodesie en werk geleidelik deur die hele Republiek en S.W.A. Die moeders wat reeds in die hemel is se kinders kry spesiale aandag in my gebede... Dit lyk miskien ongelooflik dat ek soveel name kan onthou, waar die lyste net in my hoof is – ek kan nie sien om te lees of te skryf nie – maar ek is al jare hiermee besig en het die lyste geleidelik opgebou. Feitlik my hele dag word in gebed deurgebring, dar ek byna heeltemal blnd is en al oor die 88 jaar oud. Ek is al 47 jaar opgegee deur die beste spesialiste in die land vir 'n ongeneeslike maagkwaal." (ble. 13-15)

Gedurende die Anglo Boere Oorlog word sy en haar kinders aangehou in die Barberton konsentrasie-kamp. Die vrouens is gelukkig in ontruimde huise aangehou en nie in tente nie. Sy vertel: "Die Here was baie naby in daardie dae en het op 'n wonderlike wyse in al ons behoeftes voorsien in antwoord op gebed. Na drie maande het o.a. die vreeslike hitte in Barberton my vurig laat verlang na my geboorteplek en ouerhuis te Graaff-Reinet. Op my aanvraag het die kommandant vir my verlof verkry om om kosteloos deur die twee republieke (Transvaal en Vrystaat), te mag gaan, maar op eie risiko ...

Die vernaamste vraagstuk was nou padkos. 'n Groot hoeveelheid boerbeskuit was net die ding. In die dae het ek letterlik alles van die Here ontvang wat ek gevra het. Ek het die meel gekry, maar hoe ek ook al gebid het, die vet het ontbreek. Drie dae voor ons sou vertrek, en die laaste dag waarop ek kon bak, staan ek voor die kombuisvenster wat op die straat uitkyk met die skottel meel voor my. Met 'n beswaarde hart bid ek toe: "Vader, het u my dan vergeet; ek kan dit nie verstaan nie." Net toe het die militere muilwaens met kosware vir die troepe in die veld verbygespoed met groot geraas. Meteens was daar 'n harde klop aan die voordeur. Daar staan 'n soldaat met die grootste blik vet wat ek nog ooit gesien het voor hom op die grond. "Mevrou," het hy gehyg, "hierdie vet het afgeval, net toe ons hier verbygery het – wil u dit he of nie?" En sonder om op 'n antwoord te wag, het hy dit die gang ingerol en voortgesnel om die wegrollende waens in te haal. Verbysterd het ek asof vasgenael bly staan. Die teenwoordigheid van die Here was tasbaar. Wat die wonder nog groter gemaak het, was die feit dat die deur van die huis nie direk op die straat uitgegaan het nie, maar in 'n tuin met die hekkie laer af, terwyl die huise oorkant die straat se hekke by die voordeure was. Wat sou die man beweeg het om die ompad te neem om my huis te bereik? A, ek het geweet!" (ble. 23-24)

Ouma Hamman het nie 'n maklike lewe gehad nie. Beide haar seuns het jonk gesterf. Haar dogter vertel: "Toe Muntingh 14 jaar oud was, het hy eendag tef gesny vir die koei wat ons daar in ons groot erf aangehou het. Per ongeluk het die sekel gegly en tussen die knie en knie-skyf ingeglip; maar die merkie was seker nie groter as as 'n sentstuk nie." Muntingh sterf toe aan bloedvergiftiging. Sy gaan verder: "Vir ons almal was dit 'n ontsettende skok ... Toe ek die nag terugkom , was hy reeds in sy kis – die lieflike knap seun van 14 jaar ... Vir Mamma was dit so 'n skok dat sy nie langer in daardie huis wou bly nie. Sy kon net nie daaroor kom nie." (bl. 33)

Haar dogter vertel verder: "Hoewel Retief as jong seun bely het dat hy die Here Jesus aangeneem het, het dit nie later, nadat hy in Pretoria gaan werk het, vir ons gelyk of hy nog op die nou paadjie volg nie ... Mamma het vir 'n paar jaar baie ernstig gebid vir sy volkome redding en later die Here aangekleef totdat Hy haar verseker het dat Hy hom sal red. Nadat sy die versekering ontvang het, het sy nie meer gepleit vir sy redding nie, maar die Here herinner aan sy belofte... "

Retief sterf toe in 'n motorfiets-ongeluk. Die dogter vertel verder: ".. ek was bang om haar te vertel wat plaasgevind het, veral toe ek terugdink aan haar ontsteltenis met Muntingh se dood. Destyds het sy nie eens kans gesien om langer in dieselfde huis te bly nie en het ons vertrek na 'n ander huis. Haar eerste woorde nadat ek haar vertel het, was: "My Kindjie, die Here sal nooit sy belofte breek nie. Hy wat beloof het, is getrou." Hierdie laaste sinnetjie is dan ook die opskrif op sy grafsteen. Ander verstaan dit nie, maar vir ons het dit groot betekenis.

Wat 'n geweldige verandering in Mamma se optrede! Waarlik, haar ontmoeting met die Here in 1919 het 'n groot verandering in haar lewe teweeggebring. Sy was kalm en oorwinnend en versekerd dat haar dierbare kind veilig by die Here moes wees, al het sy geen uiterlike bewys daarvoor gehad nie ... net God se onfeilbare beloftes." (ble. 41-42)

M.b.t. Ouma Hamman se ontmoeting met die Here in 1919 word die volgende inligting gegee: "My lewe was vol beproewings en ek het gely aan 'n val en opstaanlewe...een dag oorwinning en die volgende dag weer neerlaag. Hoe ek ook al met trane gesmeek het vir blywende oorwinning, kon ek dit maar nie verkry nie, weens onkunde aangaande die werk van die Heilige Gees. Toe kom 'n beproewing wat my platgeslaan het en ek kon nie weer oorwinning kry nie. Op 'n sekere dag het ek in my dagboek geskrywe: "Here al u bare en u golwe gaan oor my hoof." Vier-en-twintig uur later skryf ek "Here, u vreugde oorweldig my... ek kan dit nie staan nie" Die nag tussenin het ek wakker geword met die las, maar toe kom daar by my op 'n lied wat ek in my jong dae laas gehoor het:

Though hellish foes assail
Nought against thee shall prevail
Look to God, He cannot fail
THY GOD REIGNETH

En toe kom die vreugde. Drie dae later skryf ek: Ek is in die voorportaal van die hemel en as dit hier so lyk, hoe moet dit nie daarbinne wees nie?" Verder: "Dit het in 1919 gebeur. Nog twee rampe het gevolg, maar ek was feitlik gevoelloos vir smart. Ek het byvoorbeeld by die graf gestaan van my enigste seun van 26 jaar, wat in 'n motorbotsing plotseling heengegaan het. Almal om my was in trane behalwe ek self. Ek was as't ware opgelig in 'n hoer geestelike atmosfeer. Dit wil nie se dat trane verkeerd is nie. Die Here Jesus het self by Lasarus se graf geween; maar die Here wou my dit spaar. Toetse kom nog gedurig, want die duiwel is nog los, maar ek het geleer om hom te weerstaan in die magtige Naam van die Here Jesus en van onder Sy bloed, dan vlug hy van my weg – Jak 4:7.

Later jare eers het ek tot die ontdekking gekom dat daardie gebeurtenis in my lewe die vervulling met die Heilige Gees was wat die groot verandering gebring het. Die Here werk nie met al sy kinders eenders nie. My Vader het die gawe aan my gesken na 19 jaar se worstelende gebede. Myne was 'n buitengewone geval. Maar al Gods kinders behoort in alle erns te soek na die vervulling met die Heilige Gees – Ef. 5:18. My lewe was nou vry van kommer en vrees en gevul met vertroue. Die Here Jesus word vir my elke dag meer van 'n lewendige lieflike werklikheid, prys Hom!" (ble. 34-35).