|
17 Junie - Maria van Riebeeck gebore in 1657. |
Jan van Riebeeck se oudste dogter, Maria, is op 17 Junie 1657 aan die Kaap gebore.
Op 28 Maart 1649 tree Jan van Riebeeck en Maria de la Queillerie in die huwelik in die St. Jan-kerk in Schiedam, Nederland. Sy is gebore op 28 Oktober 1629 en was dus maar 19 jaar oud met haar huwelik. Haar Pa Abraham asook haar Oupa aan vaderskant was predikante. Vier maande na haar geboorte sterf haar pa.
Jan van Riebeeck en Maria sou nege kinders hê voordat Maria op die jeugdige ouderdom van 35 jaar te sterwe sou kom. Egter later meer daaroor.
Hulle oudste seun Anthony is gebore op 13 Maart 1650. Op 11 Augustus 1651 word hulle tweede seun Lambertus gebore. Vier weke na die geboorte van Lambertus sterf Anthony. In Van Riebeeck se dagboekie verskyn die volgende aantekening: “ Adij 9en September 1651 is mijn outste soontje Antony in den Heere ontslapen, God heb de ziele…”
Op 18 Oktober 1653 word hulle derde seun, Abraham, in die fort aan die Kaap gebore. Aangesien daar op daardie stadium geen predikant aan die Kaap was nie word hy eers op Kersdag 1653 deur ‘n besoekende predikant Ds. Abrahamus Leonardi gedoop. Die predikant was ‘n passasier op ‘n verbygaande skip die Breda wat die Kaap vanaf 22-31 Desember aangedoen het.
Op 8 Desember 1655 skenk Maria die lewe aan haar vierde kind – wat ook ‘n seun was en ook Antony genoem is – net soos sy oudste broer wat soos wat ons reeds gesien het toe al oorlede was. Hierdie Antony het net ‘n paar weke geleef en sterf op 20 Februarie 1656.
Die egpaar se vyfde kind – en oudste dogter – Maria is dan op 17 Junie 1657 aan die Kaap gebore. Sy is vernoem na haar ouma aan moederskant. Op 25 September 1659 word hulle sesde kind – Elisabeth gebore. Sy is vernoem na Jan van Riebeeck se moeder.
In Maart 1660 vertrek Lambertus en Abraham na Nederland vir hulle verdere opvoeding. Hulle sewende kind – Joanna – was 3 maande twee weke en twee dae oud toe haar ouers die Kaap op die aand van 7 Mei 1662 verlaat het. Met sy aankoms in Batavia het Van Riebeeck nie dadelik ‘n nuwe pos gehad nie weens o.a. swak ekonomiese toestande.
Op 18 September word hy aangestel as “commandeur en president” van Malakka aan die weskus van die Maleisiese skiereiland. Malakka was die eerste plek in die Verre Ooste wat deur ‘n Europese land verower is en wel deur die Portugese in Julie 1511. Na ‘n lang beleg neem die Hollanders op 14 Januarie 1641 beheer oor by die Portugese. Malakka was nie ‘n baie gesonde plek nie en amptenare het dit as ‘n straf beskou om daarheen gestuur te word. Ten tyde vanVan Riebeeck se oorname het die handelspos ‘n verlies gemaak.
Hulle agste kind Antonia word op 6 November 1663 op Malakka gebore. Op 26 Oktober die volgende jaar word hulle negende kind – ‘n seuntjie – vroeg gebore. Hy sterf 1 uur later. Van Riebeeck besef nog op dieselfde dag dat Maria aan die gevreesde pokke ly. Na ‘n ontstettende lyding sterf sy 7 dae later op 2 November 1664. Slegs 35 jaar en 5 dae oud.
Die twee oorlewende seuns was nog in Nederland en Van Riebeeck word nou agtergelaat met sy vier oorlewende dogters. Böeseken spekuleer dat die dogtertjies seker maar deur “troue slavinne” versorg is, terwyl Van Riebeeck probeer het om Malakka se laste te laat krimp en winste te laat styg. Voor die einde van die jaar het Van Riebeeck egter vir die Goewerneur-generaal laat weet dat hy nie kans sien om sy dogtertjies van 1, 3, 5 en 7 jaar te versorg nie en versoek hy dat hy toegelaat word om terug te keer na Nederland om daar by sy seuns van 11 en 13 jaar aan te sluit.
Van Riebeeck sou eers op 14 Oktober die volgende jaar Malakka verlaat. Nie voordat ook sy dogter Joanna op 21 Julie sou sterf nie. Hy is toe nie terug Na Nederland nie maar word kort na sy aankoms in Batavia op sy eie versoek aangestel as Sekretaris van die Raad van Indië.
Op 10 Maart 1667 tree hy in die huwelik met Maria Scipio. Haar eerste twee eggenotes het haar ontval en sy het ook drie dogtertjies gehad. Ook haar Pa was ‘n predikant.Van Riebeeck en Maria Scipio het saam nog een kind gehad – Joan wat op 24 Januarie 1670 gebore is.
Beide sy seuns Lambertus en Abraham word op 25 Maart 1673 in Nederland as advokate toegelaat.
Maria – met wie ons verhaal begin het – tree op 15 April 1674 op 16-jarige ouderdom in die huwelik met die 28-jarige koopman Cornelis Verburgh wat die hawemeester in Malakka was.
Van Riebeeck sterf op 18 Januarie 1677 op 58-jarige ouderdom in Batavia. Sy seun Abraham kom minder as ‘n maand later as koopman in Batavia aan. Abraham ontmoet vir die eerste keer in sy lewe sy jonger sussies. Sy oudste suster Maria het hy geken, maar sy was nog nie eers drie jaar oud nie toe hy en sy broer Lambertus in 1660 vanaf die Kaap na Nederland vertrek het vir hulle opvoeding.
Bron: Böeseken, AJ: Jan van Riebeeck en sy gesin, Tafelberg, 1974
|
|